Drome is haar werk

ELKE dag is ‘n nuwe ervaring vir Inge Human. As takbestuurder by die Reach for a Dream-stigting is elke dag bittersoet.
Elke jaar help sy om die drome van sowat 140 kinders met lewensgevaarlike siektes te bewaarheid.
Human, ‘n maatskaplike werker wat al van 2008 by Reach for a Dream is, sê daar is nie ‘n kind of ‘n kind se droom wat sy nie kon onthou nie.
Sy is in die Baai gebore en het hier en in Kaapstad, waar sy matrikuleer het, skoolgegaan. Sy het daarna na die Baai teruggekeer om in maatskaplike werk te studeer.
Sy is al 15 jaar met Mornay getroud. Hulle het ‘n seuntjie, Erich, wat 11 jaar oud is. Hulle het 10 jaar in Lorraine gewoon voor hulle ‘n huis in Kamma Heights gebou het.
Voor Human by Reach for a Dream aangesluit het, het sy by Nimro met misdaadslagoffers gewerk.
Die mees onlangse droom wat sy gehelp het om te bewaarheid, was dié van ‘n meisietjie van vier jarige van Motherwell wat aan kanker ly.
“Ons het haar op ‘n inkopietog geneem. Dit was die eerste keer dat die meisie Greenacres se winkelsentrum besoek het,” sê Human.
“Sy het ‘n groot glimlag op haar gesig gehad toe ons vir haar allerhande goedjies gekoop het.”
Human sê dit is soms moeilik vir hulle om die kinders se drome te laat waar word maar hulle werk hard en maak seker dat hulle hul drome kan geniet.
“Ek is nie Kersvader wat ‘n geskenk aflaai nie, ons laat drome waar word.”
Sy sê van die kinders vra soms vir iets so eenvoudig soos aarbeijoghurt omdat baie van die kinders baie arm is.
“Ons sit by die kinders en luister wat hul drome is. Partykeer is dit baie maklik maar soms is dit moeilik vir hulle om van iets te droom.”
Sy sê een van die drome wat haar aangegryp het, was van ‘n seuntjie wie se ma in ‘n teringhospitaal was.
“Hy het sy ma maande laas gesien – sy droom was net om sy ma te sien.
“Ons het bietjie gesukkel omdat hulle albei siek was en weens die aansteeklikheid van die tuberkulose kon hy nie by sy ma se hospitaal gaan kuier nie en sy nie by hom nie.”
Human sê sy kon dit gelukkig op die ou end regkry. Sy het hom opgelaai en hy kon saam met sy ma piekniek hou in die hospitaal se tuin.
“Hy was so bly om sy ma te sien – al waaroor hy kon droom, was sy ma se liefde.
“Almal was in trane gewees.”
Sy sê dit is soms moeilik om nie emosioneel betrokke te raak nie.
“Hoewel baie van die kinders nie hul siekte oorleef nie, word baie van hulle gesond. Daar is darem hoop wat ons help om positief te probeer bly,” sê sy.
Die stralende glimlag op ‘n kind se gesig is haar motivering wanneer alles te donker begin raak.
Dit is wat haar aan die gang hou en seker maak dat sy elke maand ‘n paar baie siek kinders se drome laat waar word.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.