Dis geen visservroustories nie

VERGEET van pienk rokke en ballet – Dannika Didloff wys meisies kan ook hul man staan wanneer dit by hengel kom.
Dannika, ’n inwoner van Sherwood in Graad 10 aan die Hoërskool DF Malherbe, het dit bewys toe sy onlangs R1000 in ’n hengelkompetisie gewen het.
Sy het verlede maand aan haar eerste Pedsac Tuna Classic deelgeneem waar sy op die laaste dag een van die grootste tunas wat in die kompetisie gevang is, ingeweeg het. Dié bielie het 17.8kg geweeg.
“Ek was baie trots toe ek dit uit die water pluk,” sê Dannika.
Sy het reeds op agt begin hengel. In 2006 is sy tot die OP se ligtegereihengelspan verkies.
Aan die einde van 2006 is sy gekies om aan die All Coastal-kompetisie wat by die Kromrivier gehou is, deel te neem.
“Ek het ’n diamantrog van 37kg met ’n lyn van 4kg gevang,” vertel sy trots.
In 2009 is sy gekies vir die o-16 OP ligtegereihengelspan wat in Mosselbaai meegeding het.
Teen Augustus 2009 het sy met diepseehengel begin en derde onder die juniors in die Pedsac Super Six-kompetisie vir die jaar 2009/2010 geëindig.
“Die volgende jaar is ek eerste in dié kompetisie geplaas en tot die OP se o-19 diepseehengelspan wat in Richardsbaai gaan deelneem het, verkies. “Ek het daar my eerste couta van 106kg gevang.”
Dannika sê sy gaan graag saam met haar pa, Pieter, visvang maar wil eendag nes haar ma wees.
“My ma [Riana] was al onder die toptien in die land vir ligtegereihengel en ek wil eendag so goed wees soos sy.”
Sy was weer eerste onder die juniors in die Pedsac Super Six-kompetisie, asook eerste in die OP meisies o-19 diepseehengel-afdeling. Haar mikpunt is om haar ma in te haal.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.