Dien Here met 'n jeugsentrum


"DIE Here antwoord ons in beseringstyd.”


So sê Clive Davids, direkteur van Signs and Wonders Mission, oor sy hoop dat dit sal gebeur wanneer hulle die planne vir ’n nuwe jeugontwikkelingsentrum in Butterlilystraat, Uitbreiding 32, aan die munisipaliteit voorlê.


Davids het reeds die regte vir ’n stuk grond, die droom en die planne, maar die res moet nog gebeur.


Hy het die Signs and Wonders Mission agt jaar gelede begin toe hy nog in Pretoria gewoon het, sê hy.


Hul doel is om mense nader aan die Here te bring deur te doen eerder as om te preek. Dit doen hulle deur die gemeenskap te help om hul situasie te verbeter, sê hy.


"Toe ek nog in Pretoria was, het die Here met my gepraat en gesê die gemeenskap van Port Elizabeth het my hulp en die Here se leiding nodig. Ek het gedoen wat Hy wil hê.


"Die verskil tussen ons en ’n kerk is dat ons die gemeenskap prakties help. Deur voorligting vir mense te gee met dwelm- alkohol-, gesins-, huweliks- en emosionele probleme soos selfmoord, is ons besig om die gemeenskap positief te beïnvloed,” het Davids gesê.


Davids voel daar is nie ’n behoefte aan nog kerke in die Noordelike Gebiede nie, maar dat ’n jeugsentrum broodnodig is.


"As kinders wil pool speel, moet hulle na die taverns toe gaan. Van ons kinders kry nie kos nie of het nie ’n plek om hul huiswerk te doen nie. Ons wil seker maak die sentrum is ’n veilige plek vir kinders waar hulle ná skool kan kuier.


"Ons wil kamers in die sentrum bou vir ’n biblioteek, Bybellesse, om te ontspan, vir rekenaars, pool en tafeltennis, ’n eetplek en ’n kombuis. Buite wil ons ook ’n tennisbaan en skaatspark bou,” het Davids gesê.


Signs and Wonders Mission het reeds geld begin insamel met onder andere ontbyte en ’n dansopvoering, Big Boys Don’t Dance .


subscribe