Deur kuns wil hy die wêreld wys wie hy is

VIR André Koekemoer is kuns ’n onlosmaakbare deel van sy lewe en hy hoop om dit eendag sy loopbaan te maak.
Koekemoer, wat in Lorraine woon, sê hy het van kleins af begin skets en hou hom reeds 16 jaar lank besig met skilder en skets.
“Toe ons gesin in 1996 van Pretoria af hierheen getrek het, moes ek van my vakke verander. Ek het geskiedenis vir kunsgeskiedenis verruil, want ek het gehoop die prakties sou my help om te slaag.”
Dit het toe ’n goeie keuse blyk te wees, want hy het nie net sy eerste skildery op 17 voltooi nie, maar ook in sy finale praktiese eksamen ’n A-plus behaal.
“Die meeste van my werk het in my oupa of my ouers se huise beland en as gevolg van vriende en familie wat hulle besoek het, het die bestellings begin inkom,” sê hy.
Koekemoer het ná skool die kunskursus by die Russelweg-kollege ondersoek, maar is afgeskrik deur die groot verskeidenheid wat hy gevoel het op hom afgedwing sou word.
“Ek besef nou eers dat dit ’n inleiding was en dat ’n mens eers alles moet probeer om te sien wat jy op die ou einde wil doen.”
Hy het heeltyds as verkoopsman begin werk, maar hoop om eendag nog te studeer en hom net op kuns te kan toespits.
Hy hou daarvan om met olieverf te werk.
Hy het van skooldae se landskappe wegbeweeg na kuns wat ’n storie vertel, sê hy.
“Dit is realisties, maar ek stort my emosies, gevoelens en wat ek mis daarin.”
Hy sê Salvador Dali is sy muse. Hy hou van die droomwêreld wat deur Dali se werk opgeroep word. Koekemoer, 34, sê hy werk aan ’n tentoonstelling wat hy teen die einde van die jaar wil hou.
Buiten kuns speel hy ook graag kitaar.
“Dis soms moeilik om tussen die twee te kies. Ek kom gewoonlik by die huis – jam it up – en dan tel ek my verfkwas op. Ek sou eerder elke oggend wakker wou word en iets skep as om mense te bedien.”
Hy sê dit is moeilik om geld te maak as ’n heeltydse kunstenaar. Selfs gevestigde kunstenaars kla hulle sukkel om die mas op te kom.”Jy begin dit glo en volg liewers ’n roetine-bestaan.”
Hy sê hy sal nog die sprong waag en kuns sy loopbaan maak.
“Wanneer die skeppingsdrang jou pak, moet jy dadelik aan die werk spring om die wêreld te wys wie jy is,” sê hy.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.