Dagsorg waar kinders tuis kan voel


PLEKS van om geld uit haar onderneming te maak, sienTasneem Lagardien van Weseinde haar Tiny Toes-dagsorg meer as 'n diens aan haar gemeenskap.


Met 'n graad in bemarking en verkope agter haar naam, is Lagardien ideaal geskik vir haar taak. Pleks van om haarself jammer te kry ná sy twee keer haar werk verloor het by mediese fondsmaatskappye wat besnoei het, het sy Tiny Toes drie jaar gelede begin.


Sy sê sy moes 'n plan maak ná die geboorte van die jongste van haar vier kinders, Aasif. "Aasif was slegs vyf maande oud. Ek wou nie iemand kry om na my kinders te kyk nie en besluit toe om my eie dagsorg te verskaf.


"Aan die begin het ek ook groente en klere verkoop, want ek het nie geweet of dit sou werk nie. Ek het geweet daar is 'n aanvraag omdat my dagsorg een van twee hier is.


"Die onderneming het gegroei van twee tot 30 kinders."


Wat Lagardien se dagsorg anders maak, is dat sy die geld wat sy maandeliks inkry, gebruik om die kinders elke dag op te laai en skool toe te bring en elke leerling kry kos om die dag reg te begin.


"Ek gebruik al die geld wat ek kry vir die dagsorg. Toe ons te groot begin word het, het ek die bediendekamer verander en 'n badkamer vir die dagsorg aangebou.


"Die enigste geld wat ek vir myself gebruik, is om my drie werkers en die belasting van die huis te betaal," sê sy.


Sy sê al die kinders is vir haar soos haar eie. Sy sien die kinders voor haar grootword omdat hulle na kinders omsien van hul babas is tot skoolgaande ouderdom.


"Ons wil graag die dagsorg soos die kinders se huis laat voel. Ons maak seker dat ons almal goed voorberei vir die lewe ná dagsorg," sê sy.


Lagardien sê sy is op soek na 'n klouterraam om die kinders se motoriese bedrewenheid te verbeter. Belangstellendes wat iets aan Tiny Toes wil skenk, kan Tasneem kontak: 084-811-4094.

subscribe