Bottels word blomme

Zandile Bokwana


Die inwoners van Tugelastraat in Sherwood werk saam met raadslid Margaret de Andrade om die park in Sherwood skoon te hou na dit in gevaar was om 'n rommelstorthoop te word.


"Inwoners moet self na hul omgewing begin omsien en nie altyd wag vir die munisipaliteit om iets te doen nie, " sê De Andrade.


Inwoner Monty Uren sê die park was besig om in 'n vullishoop te ontaard met mense wat bottels en sigaretpakkies daar gegooi het.


"Ek is dankbaar vir die goeie werk van die Tugelainwoners wat vir Monty help. Hy is toegewy aan die opruim van die park," sê Andrade.


"Onwettige storting ruk hand uit. As jy iemand sien wat dit doen, rapporteer dit sodat hy beboet kan word."


Uren sê die park lyk nou pragtig, veral danksy al die plante wat naburige inwoners geskenk het.


De Andrade moedig inwoners aan om die park skoon te hou, omdat dit as 'n stemlokaal gebruik word.


Uren se buurvrou, Ilona Marks, wat 'n aalwynplant geskenk het, wil graag die park so skoon sien bly as wat dit nou is.


"Ek is baie dankbaar dat Monty seker maak dat die park skoon is."


Uren sê hy verwelkom enige plantskenkings. Al die bome wat geskenk word, kry 'n spesiale naambordjie met die skenker se naam.


DA raadslid vir openbare gesondheid Brenda Mathee sê dit lyk asof baie metro-inwoners hul trots op 'n skoon omgewing verloor het.


Sy vra inwoners om oortreders te rapporteer by die 24-uur se oproepsentrum: 0800-205-050


subscribe