Boek bring ou Newtown terug


MENSE wat vandag in Port Elizabeth se Noordelike Gebiede woon maar te jonk is om die ou Suideinde te onthou, weet maar min van plekke soos Newtown (Stuart Township) wat deel was van dié gebied.


Kariem Jeftha van Gelvandale skryf nou ’n boek, Memoirs from Newtown, om seker te maak die stukkie geskiedenis bly behoue.


Newtown, wat naby die lughawe geleë was, was ’n klein deeltjie van Suideinde met net meer as 200 huise. Omdat dit so ’n klein plekkie was, was dit ’n baie hegte gemeenskap wat na aan mekaar geleef het. Maar juis omdat dit so klein was, is die geskiedenis nooit aangeteken nie, sê Jeftha.


Sy boek handel oor die stories van die families en wat alles in die buurt gebeur het.


"Ek het met die meeste van die mense wat in Newtown gewoon het, gesels en hul herinneringe vir die boek aangeteken.


"Ek het hulle ook oor gebeurtenisse uit die tyd – soos groot rugbywedstryde en die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd – uitgevra.


"Ek het eintlik die boek vir myself geskryf, maar hoe meer ek met mense gepraat het, hoe meer het ek besef dat daar baie groot belangstelling in die boek is.


"Ek wil nou een boek vir elke familie gee wat in Newtown gebly het.”


Jeftha het omtrent ses maande gelede begin skryf ná sy aftrede as ’n pakhuisman by Shatterprufe. As die boek ’n sukses is, wil hy ’n opvolg daarop skryf oor die tyd toe die bruin bevolking van die gebied na die Noordelike Gebiede getrek het.


Voormalige inwoners van Newtown kan die skrywer gerus bel by 081-520-1048, of vir hom ’n e-pos stuur na kjeftha@yahoo.com

subscribe