‘Appel-oom’ laat Helenvale glimlag

“DIE appel-oom is hier!” skree die kinders van Helenvale as Lutchmonen Coopoo elke Saterdag deur hul straat ry om vir hulle ’n ontbyt te bring bestaande uit ’n pakkie skyfies, ’n appel, en as hulle gelukkig is – groente en klere.
Die entrepreneur, wat sakebelange in vrugte en groente gehad het, maar nou wil aftree, is al jare by liefdadigheidswerk in tronke betrokke en is voorsitter van Ithemba, ’n sentrum vir verstandelik gestremde kinders.
Hy het die nood in Helenvale gesien op ’n besoek met die kinderadviesraad, sê hy.
“Ek kon by ander sakemanne in die vrugte- en groentebedryf aanklop vir voorraad vir die kinders. En nou is ek al drie jaar besig om omtrent tagtig kinders in Helenvale te voer,” het Coopoo gesê.
Coopoo sê hy probeer sover moontlik die geestelike ingesteldheid van die kinders verbeter.
“Toe ek begin het, het kinders net goed van my bakkie af gevat en weggehardloop. Ek het toe vir hulle gesê ek sal nooit weer vir hulle kom help nie. Daarna het hulle reggekom en nou staan hulle in ’n ry en sê asseblief en dankie.
“Ek wil vir elke mens wat dit kan bekostig om ’n verskil te maak, vra om dit te kom doen,” het hy gesê.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.