Anker vir sy mense


DIE Alberts-gesin se huis is nie net tot die mense in hulle gesin beperk nie maar staan vir die hele gemeenskap van Bethelsdorp oop.


Dominee Jake Alberts, predikant van die Bethelsdorp Gemeentelike Kerk die afgelope 34 jaar, het gesê toe hy en sy vrou van 47 jaar, Sarah, na die gemeenskap toe getrek het, het hulle welkom gevoel.


"Ek en my vrou is oorspronklik van Ebenezer naby Paterson. Maar ons het na die Baai getrek om ’n beter lewe vir ons self te maak. Vandat ons hier ingetrek het, het die gemeenskap ons verwelkom,” het Alberts gesê.


Alberts en sy vrou het ’n seun Clarence en ’n dogter Louverne. Hulle het drie van hul kinders verloor toe hulle nog jonk was.


As student was dominee Alberts baie aktief in die politiek – hy was ’n anti-apartheidsaktivis toe hy teologie in 1961 aan die Universiteit van Fort Hare studeer het. Hy het gesê apartheid is die rede waarom die noordelike gebiede nog steeds sukkel om die mas op te kom.


"Die noordelike gebiede is in die apartheidstyd so uitgelê dat almal op mekaar bly. Die huise is klein sodat bure makliker met mekaar kan stry kry – soos wanneer jy water in die straat gooi, lê dit voor die bure se deur. Hulle wou hê ons moet onder mekaar baklei dan vergeet ons wat hulle doen.


"Maar dit het ook in ons guns getel. Wanneer mense so naby mekaar woon, moet hulle vriende maak en leer almal mekaar goed ken. Ons is nou ’n sterk gemeenskap as gevolg hiervan. ‘Ubuntu’ is baie sterk hier ,” het Alberts gesê.


Alberts se familie is een wat baie na aan mekaar is en kan enige iets weerstaan as hulle saam staan onder die Here het hy gesê.

subscribe