Konifere is tuinier se vriend

KONIFERE is al jare lank heel bo-aan my lys van plante. Min ander plante kan daarmee spog dat hulle terselfdertyd tekstuur, vorm en kleur vir 365 dae van die jaar verleen, en nog boonop maklik is om te kweek!


Hierdie immergroen plante kom in 'n wye verskeidenheid groottes en vorms voor wat hulle waardevol maak in enige tuinontwerp. Horisontaal of vertikaal, hoog of laag, potlood-, kolom-, piramide- of balvorm, maak jou keuse. Wat kleur betref, is daar 'n keuse van donkergroen, olyfgroen, helder geel, grys, blougrys en selfs grys met roomkleurige spikkels. Daar is 'n konifeer vir elke plek in die tuin.


Hier is 'n paar wenke om konifere altyd op hul beste te laat lyk:


Groeitoestande


Konifere het baie son nodig om te floreer. Kies 'n plek in die tuin wat aan ten minste ses ure sonlig blootgestel word. Dit is belangrik om goed te beplan voor jy jou konifeer plant omdat hierdie plante nie suksesvol oorplant nie. Hierdie pragtige plante is windbestand wat hulle 'n goeie keuse maak vir ons moeilike tuine hier by die kus.


Vir tuiniers in baie koue gebiede is daar die goeie nuus dat konifere heeltemal rypbestand is, en op hul mooiste vertoon hoe laer die temperature daal.


Grond


Goeie dreinering is die sleutel tot sukses. Konifere haat "nat voete". Swak dreinering is een van die hoofredes waarom konifere doodgaan. Bewerk die gekose plek deur alle onkruid te verwyder, die grond goed los te spit en lekker baie kompos en veenmos in te werk. Strooi ook so 'n handvol beenmeel onderin die gat voordat jy plant.


Water en Kos


Een maal per week se goeie natmaak behoort meer as genoeg vir hierdie plante te wees. Strooi 'n deklaag kompos om die wortels koel te hou en verdamping te verminder. In die meete gevalle is chemiese kunsmis te sterk vir konifere. Dit brand die wortels en beskadig die plant. Bemes een maal per maand met organiese bemestingstowwe soos Efekto Vita Boost of Seagro.


Peste en Algemene sorg


Buiten vir die sipresluis wat in die koeler maande aktief is, word konifere nie sommer deur insekte aangeval nie.


Die sipresluis is 3mm lank en grys van kleur. Nou is die tyd om voorsorgmaatreëls te tref.


Lekker tuinmaak en groen groete van Lara en die Evergrow Span!


subscribe