Gelvandale gekies

INWONERS van die Noordelike Gebiede hoef nou nie verder as Gelvandale te ry om hul motors te registreer nie.


Die Gelvandale-poskantoor sal van Oktober motorvoertuig-lisensies (MVL) van Maandag tot Saterdag uitreik en voertuie registreer.


As deel van Oktober se vervoermaand-veldtog het die Oos-Kaapse LUR vir vervoer, Thandiswa Marawu, die Gelvandale-poskantoor ingesluit as een van die poskantore wat die MVL-diens sal lewer soos sy in Maart in 'n toespraak belowe het.


Ndala Mnisi van die Suid- Afrikaanse Poskantoor, sê die inwoners van die Noordelike Gebiede sal groot baat by die projek vind.


"Die MVL se hernuwingsdiens is 'n voorbeeld van hoe die Suid-Afrikaanse Poskantoor samewerking met die staatsdiens verbeter het tot die gemeenskap se voordeel," het Mnisi gesê.


Sy sê navorsing het getoon dat Newtonpark en Gelvandale die voorstede is waar die meeste motors geregistreer is. Die afgelope drie jaar is meer as 1.5 miljoen MVL-transaksies in die 102 poskantore in die Oos-Kaap hanteer .


Die registrasie- en voertuiglisensie-hernuwingsproses sal regstreeks gekoppel wees met die Nasionale Vervoer-inligtingstelsel (eNaTIS).


Gelvandale is een van die min poskantore in die stad wat gemagtig is om geldige nuwe lisensieskywe aan voertuigeienaars uit te reik wat 'n kwitansie as bewys van betaling en 'n kennisgewing dat hul MVL hernuwe moet word, kan voorlê.


Mnisi sê buiten registrasie en hernuwing sal die poskantoor ook ander transaksies in verband hiermee hanteer.


"Dit sluit dienste in soos die skrapping van 'n voertuig, verandering van eienaarskap en duplisering van registrasiesertifikate," het Mnisi gesê.

subscribe