Warm water lok vis

Cindy Liebenberg
MET meer as R50000 se pryse op die spel beloof vanjaar se Vangie Tunnie om strawwe kompetisie op te lewer.
Hengelaars van heinde en vêr sal van 29 April tot 2 Mei wedywer vir die eerste prys van R25000 kontant terwyl daar ook hope ander pryse soos visstokke, katrolle, ‘n Fishfinder ter waarde van R7000, ‘n verkyker, geskenkpakkies en gholfhempies op die spel is.
Buiten die individuele pryse sal die boot van die dag ook ‘n prys wen.
Die kompetisie word vanjaar vir die 28ste keer aangebied en organiseerders hoop om 20 bote met tussen 80 en 100 hengelaars te lok.
Inskrywings begin om 6nm op Sondag 29 April. Maandagoggend dou voordag word die "vloot” volgens tradisie geseën by die hawe in St Francisbaai. Indien alles vlot verloop en die weer saamspeel sal die skale die dag se vangste van 3nm af weeg vir die volgende drie dae by die Skibootklub in Jeffreysbaai. Daar sal waarskynlik op die laaste dag Woensdag 2 Mei reeds van 2nm af ingeweeg kan word. Die publiek is welkom om elke dag die inweeg te besigtig.
Die verrigtinge word Woensdag op die spit gedryf met ‘n heerlike ete en prysuitdeling die aand by die Skibootklub.
Volgens Hendrik Bezuidenhout, ‘n hengelaar wat reeds die afgelope 10 jaar aan die kompetisie deelneem, is die Vangie Tunnie tradisioneel een van die gewildste diepseehengelkompetisies. "Dit is nog relatief beskostigbaar en daar is gewoonlik redelike vangste,” sê Bezuidenhout.
Die afgelope twee weke se lekker warm water en ideale weer laat die vooruitsigte vanjaar goed lyk.
Bote soos Bluwater het in dié tyd onderskeidelik twee tunas van 42.6kg en 43kg, ‘n Wahoo van 24.2kg en ses tunas van tussen 15 en 20kg gevang. Oor dieselfde tydperk het twee ander bote, die True North en Obiwan, ook groot vangste gehad.
Volgens die skipper van Bluwater, Rian Raubenheimer, het die Ocean Warrior en Fully Hooked die afgelope Paasnaweek elk ‘n marlyn gehaak. Hy sê dit is ‘n nog beter bewys dat hier warm water van gehalte is.
"Boonop is daar amper nog elke keer wanneer ‘n boot in die see was ‘n marlyn gesien en gerugte van marlyn slegs ‘n paar kilometer van die kant af maak dit nog meer opwindend,” sê Raubenheimer.
Voorts sê hy is die groot hoeveelheid bonito wat hulle in die baai en omgewing gevestig het, is ook ‘n goeie teken.
"Dit is altyd moeilik om te bepaal hoe goed die visvang is as daar net twee of drie bote uit is. Maar ek glo die aanduidings is daar dat die Vangie Tunnie goeie vis sal oplewer in die kompetisie waar daar ook heelwat meer bote sal wees.”
Verlede jaar se wenner gaan egter moeilik wees om te klop. Jan Hendrik Hattingh se 89kg tuna het die destydse rekord met 400g oorskry.
Organiseerders is dit eens dat die vooruitsig van goeie vangste en die groot kontantpryse waarvoor die Vangie Tunnie bekend is, ‘n wenresep is vir ‘n baie lekker kompetisie van drie dae se hengel.
Vir meer besonderhede kontak Raubenheimer by: 082-822-3202 of vir Bettie du Toit by: 082-895- 9878.

subscribe