Stiller paasnaweek in Jeffreysbaai

Cindy Liebenberg
WAARSKYNLIK stiller as aanvanklik verwag, maar besighede is tog tevrede met die afgelope Paasnaweek in Jeffreysbaai.
Faktore soos die petrolprys, koue en nat weer, ‘n korter binnelandse skoolvakansie en die KKNK het waarskynlik alles bygedrae tot ‘n stiller Paasnaweek as vorige jare.
JP Venter, die eienaar van SuperSpar in Jeffreysbaai, sê hy is gelukkig.
"Ons het ‘n goeie naweek gehad. Ek glo egter die korter binnelandse skoolvakansie en die KKNK wat oor die Paasnaweek geval het, het tog sy tol geëis.”
Polly Marx van die BP Motorhawe sê daar was geen vuurwerke nie maar hy is ook tevrede.
"Ek is dankbaar vir enige geleentheid wat meer voete in die dorp bring,” sê Marx.
Die algemene gevoel onder die mense in die restaurantbedryf is ook positief. Die meeste is dit eens dat dit ‘n baie besige naweek was en hulle glad nie kan kla nie, maar daar was beslis minder mense in die dorp.
Volgens Cindy Zode van Jeffreysbaai Toerisme was hul lede se verblyf sowat 80% bespreek.
"Dit kon beter gewees het maar ons lede blyk meestal gelukkig te wees.”
Die weer het beslis die Fountains Mall bevoordeel, sê hul bemarkingsbestuurder Nadine Scheepers:
"Al ons verwagtinge is oortref, veral op die dae wat dit gereën het, is ons druk besoek.”

subscribe