Sakevrou van Jeffreys skuldig aan diefstal en bedrog

Cindy Liebenberg
DIE Jeffreysbaaise sakevrou Annatjie Oosthuisen is verlede week in die Handelshof in Port Elizabeth skuldig bevind aan bedrog en diefstal.
Oosthuisen, wat die onderneming Anel's Clothing and Beauty CC besit het, is deur landdros Louis Claasen tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis en met R360000 beboet.
Oosthuisen, wat haar onderneming van ‘n perseel in die Neptune-gebou in Da Gamastraat Jeffreysbaai bedryf het, het volgens die hofverslae die onderneming in 2007 aan Lynn Keppler van Johannesburg probeer verkoop.
Die hof het bevind die transaksie was ongeldig omdat Oosthuisen doelbewus vals finansiële inligting aan Keppler verskaf het. Oosthuisen het dit aan Keppler erken toe Keppler haar daarmee gekonfronteer het, maar het voortgegaan om die R350000 wat Keppler as deposito betaal het, te onttrek.
Oosthuisen het onder meer vir Keppler laat verstaan sy betaal R10000 per maand minder huur as wat die geval was. Claasen het in sy uitspraak gesê Oosthuisen het by verskeie geleenthede vals finansiële state en inligting aan Keppler verskaf.
Na Keppler van die bedrog bewus geword het, het sy en Oosthuisen ooreengekom dat Oosthuisen nie die deposito sou onttrek nie. Daar is egter bevind dat Oosthuisen die volle bedrag onttrek het. Claasen het gesê dit is doelbewuste diefstal.

subscribe