Plaaslike dokter skik buite hof

'n PLAASLIKE dokter van Jeffreysbaai, dr Jan Nagtegaal, het verlede week ‘n hofsaak teen hom buite die hof geskik. Die skikkingsbedrag is nie bekend nie.
Nagtegaal, wat tans verbonde is aan die Poli-Kliniek in Jeffreysbaai, is deur Nonette Burger, die vrou van wyle Jacobus Burger en sy kinders vir R7-miljoen plus begrafnis-onkoste gedagvaar. Burger is op 7 Oktober 2009 oorlede.
Volgens hofrekords het Burger Nagtegaal by sy Da Gama-praktyk besoek. Burger het aan hoë bloeddruk gely en het gekla van ongemaklikheid oor sy bors. Hy was ook kort van asem en baie bleek, volgens sy familie.
Die familie beweer Nagtegaal het ‘n EKG van Burger geneem, medikasie vir hoë bloeddruk voorgeskyf en vir hom gesê om te gaan ontspan. Die volgende dag is hy wéér na die spreekkamer waar Nagtegaal hom glo verseker het alles is in orde. Die volgende week is Burger aan ‘n hartaanval dood.
Nagtegaal het in hofstukke aangevoer dat Burger ‘n nuwe pasiënt was. Hy beweer hy het Burger aanbeveel om ‘n kardioloog te gaan spreek, maar Burger het gesê hy wil nie Port Elizabeth toe gaan nie.
Volgens die hofstukke het Nagtegaal Burger nie na ‘n kardioloog verwys nie.

subscribe