Our Times help dief vastrek

Cindy Liebenberg
MET die flink optrede van adjudant-offisier Johnny Hayward van die polisiekantoor op Jeffreysbaai en die samewerking van Our Times is die eienaar van ‘n gesteelde kamera opgespoor voor sy besef het dit is gesteel.
Kathleen Aucamp kon nie glo toe Hayward by haar winkel instap en haar vra om haar kamera te eien nie.
"Ek het nie eers geweet daar is by my huis ingebreek nie,” het ‘n geskokte Aucamp gesê.
Hayward, wat op inligting van ‘n informant gereageer het, sê hy het die verdagte so te sê op heter daad betrap by die Claptons Beach-kompleks in Astonbaai.
Hy het die verdagte voorgekeer en die kamera in sy besit gevind.
Omdat die kamera se batterye pap was en hy geen manier gehad het om te bepaal aan wie die kamera behoort nie het hy hom tot Our Times gewend.
Die kamera se geheue stokkie is in Our Times se kaartleser geplaas en met die hulp van die personeel kon die mense op die foto's gou geidentifiseer word.
Hayward kon ook die hondjie op van die die foto's eien as die een wat hy pas gesien het waar hy die kamera van die verdagte afgeneem het.
Hy kon daaruit aflei dat die kamera moontlik aan Aucamp kan behoort en het haar onmiddellik gaan opsoek.
"Indien Our Times my nie kon help met die identifisering nie sou ek nie ‘n diefstal-saak kon open nie, maar slegs een van besit,” het Hayward gesê.
Die verdagte, Dali Nel van Ocean View, is in diens van die beheerliggaam van die kompleks waar die kamera gesteel is. Hy het reeds Maandag in die hof verskyn en is vrygelaat op borg.
Aucamp, wat nog goed uit die huis vermis, sê dit is die derde inbraak by hulle die afgelope paar jaar. Hayward sê daar was onlangs ‘n vlaag inbrake in die omgewing.

subscribe