Oom Barries groet

Japie Bosch
"JY'S gegroet,” het oom Barrie altyd na ‘n telefoongesprek gesê. Verlede Woensdag het hy vir die laaste keer gegroet. Die kleurryke Bernhard Barnard van Jeffreysbaai is binne 14 dae nadat hy met kanker gediagnoseer is, oorlede. Hy was 87.
Gebore net buite Jeffreysbaai het hy die kontrei en sy mense goed geken en lief gehad. Juis dit het hom begaan gemaak oor hoe die dorp en sy omgewing bestuur word. Sy briewe oor munisipale sake het dikwels in die Our Times verskyn.
Praat ‘n mens met oom Barrie (ook Barnie) se vriende en familie (voor en na sy dood) word met respek na hom verwys. Eerlik, menslik, regverdig, vrygewig, ‘n gesinsman en ‘n rits ander kwaliteite. En ook "moeilik”. As hy besluit het ‘n saak is reg of verkeerd sou niemand sy denke buig nie.
Ná sy werkomswerwinge in Johannesburg, Noord-Rhodesië (Zambië), Kaapstad, Alexanderbaai, Pretoria en Port Elizabeth het oom Barrie hom in 1984 na sy aftrede in Jeffreysbaai gevestig. Hier het hy hom met die sake van die munisipaliteit bemoei. Hy en sy broer, Thomas (ook Sonie) het dikwels die lewe van raadslede en amptenare versuur, ter wille van die gemeenskap. Hul bydrae kan nooit onderskat word nie.
Sedert 1976 was oom Barrie streekbestuurder in die Oos-Kaap van die destydse Departement van Beplanning. Dit het hom by al wat ‘n munisipaliteit in die provinsie is, gebring. Hy was goed onderlê in munisipale sake.
Sy sitkamer was altyd vol koerante. Hy het munisipale wette soos storieboeke gelees. Raadslede het dikwels sy mening of raad gevra.
In sy jonger dae was hy ‘n uithaler-rugbyspeler. In 1954 het hy vir Namakwaland stut gespeel en teen sterk manne van destyds kragte gemeet.
Sy groot liefde was hengel. Hy het verskeie bote gehad waarmee hy die groot menere uit die diepsee gaan haal het.
Hy was ‘n lopende Afrikaanse woordeboek en het ‘n liefde vir gedigte gehad. Op sy sterfbed het sy een dogter en kleindogter vir hom gedigte uit Groot Verseboek gelees.
Agt jaar gelede het oom Barrie sy grootste hartseer beleef toe sy vrou, Beatie (nou 85), vanweë verswakking in Amala- versorgingseenheid opgeneem is. Hy het haar elke dag besoek, lekkernye saamgeneem en haar masseer.
Buiten sy vrou en broer, laat oom Barrie drie susters, vier kinders, ses kleinkinders en vier agterkleinkinders agter. Sy begrafnis was Maandag.
Jy's gegroet, oom Barrie. Jeffreysbaai se mense sal jou mis.

subscribe