Les vir almal

Cindy Liebenberg
AL oorleef hy op aalmoese is Enoch Manzi, 43, ‘n karwag van Jeffreysbaai, ‘n voorbeeld vir almal wanneer dit by ‘n oop hand vir ander kom.
Manzi kan daagliks op sy pos by die Standard Bank se parkeerterrein aangetref word waar hy met ‘n vriendelike glimlag mense se motors oppas.
Klokslag na werk stap hy na die U-Save-winkel ‘n paar deure verder af in die straat waar die winkelassistente sy dag se gasie goedgunstelik omruil vir vaste geld.
Dit is ook hier waar hy sy daaglikse skenking maak.
Die polisievroue van Jeffreysbaai het by verskeie punte in die dorp botteltjies met etikette: "Bottels of Love” neergesit om geld in te samel vir ‘n projek wat hulle in samewerking met die plaaslike traumasentrum geloods het.
Manzi gooi glo elke dag tussen R2 en R3 in die botteljie. Hy sê hy doen dit omdat hy ook ‘n pa is en graag ander met minder as hy wil help.

"Miskien help die geld iemand wat blind is of ‘n siek kind ,” vertel hy.
Hy sê hy weet wat dit is om swaar te kry en nie hulp te hê nie aangesien hy "swak bene en TB” gehad het. Hy sê dit is die rede waarom hy nie meer voltyds kan werk nie. Hy voeg egter met ‘n groot glimlag by dat die lewe goed is vir hom. "Party van die dorp se mense gee altyd vir my ‘n geldjie, maar party is sommer ongeskik. Die beste is vakansietye, want dan gee al die mense wat op vakansie is vir my baie geld. Dan gooi ek baie in die botteljie.”
Adjudant-offisier Petra Els wat die projek beheer, sê hulle het reeds ‘n lekker bedrag met die projek ingesamel en sê die geld word gebruik om noodsaaklikhede vir die traumasentrum aan te koop.
Els het Manzi geprys en bedank vir sy gulhartigheid. Sy sê dit maak mens warm om die hart om te weet daar is nog mense wat onbaatsugtig gee aan ander wat minder het as hulle.

subscribe