Krieket kry hupstoot

Maggie White

‘n SAMEWERKINGSOOREENKOMS tussen Mentors-landgoed, Victory Christian School, Global Leadership Academy en JBay Gateway-krieketklub stel Mentors-landgoed se kolfblaaie en krieketveld beskikbaar vir wedstryde en om op te oefen.

"Hierdie ooreenkoms is om krieket in die Kouga-streek in al die gemeenskappe te bevorder,” sê Pieter Hancke van Mentors-landgoed.

"Ek wil ook die borge wat gehelp het om die nette op te rig – Buco, Jeffreysbaai Spar en Top Carpets – vir hul bydrae bedank.”

Fanie Vermaak, skoolhoof van Victory Christian School, administreer die o-12-krieketspanne vir laerskole in die agt zone van Humandorp op streekvlak.

Hy sal in beheer wees van wedstryde wat by Mentors se nuwe krieketgeriewe gespeel word.

JBay Gateway-krieketklub vir senior spelers bestaan reeds twee jaar. Hulle het ongeveer 30 lede en speel in die eerste en vierde liga. Verlede jaar het hulle sesde uit 12 spanne in die derde liga geëindig. Belangstellendes kan die klub kontak.

Vlam Michau, oud-krieketspeler vir die OP wat op Jeffreysbaai woon, sal hand bysit as konsultant vir spelers.

Global Leadership sal ook hul wedstryde by Mentors speel.

subscribe