Krag nou afgesny vir skuld

Cindy Liebenberg
TERWYL Suid-Afrikaners landwyd vandag Menseregtedag vier, sit ‘n groot gros inwoners van die Kouga sonder krag na die Kouga Munisipaliteit sistematies dienste begin opskort het waar agterstallige skuld geïgnoreer word.
Een inwoner, Jannie Jantjies van Govan Mbekirylaan, Mandelabaai sê hy het Sondag sy seun gestuur om te gaan krag koop maar dié is meegedeel die kaart is geblokkeer.
"Ek dog daar was fout met die mense se masjien en is self na ‘n ander verskaffer net om dieselfde antwoord te kry,” vertel ‘n baie ontstelde Jantjies.
Hy sê hy moes meer as R10 op lugtyd uitgegee het en kon toe steeds geen antwoord kry oor sy geblokkeerde kaart nie.
Maandag is hy heel eerste na die munisipale kantore waar hy meegedeel is dat hy meer as R2000 skuld op sy waterrekening, sê hy.
"Ek weet die bedrag is op my maandelikse rekening, maar ek het reeds ‘n dispuut daaroor verklaar en dit is met mense by die munisipaliteit opgeneem,” sê Jantjies.
Hy beweer sy water kan nie gelees word nie omdat die meter al meer as vyf jaar onder die grond begrawe is.
Jantjies se huis is een van drie in dieselfde straat wat gereeld onder water is na reën. Our Times het reeds berig oor die beloftes wat die munisipaliteit die afgelope vyf jaar maak om die huise te lig, maar Jantjies sê daar het nog niks daarvan gekom nie.
"Die munisipaliteit skuld my meer as R67000 aan skadevergoeding en ek het die eis ook reeds ingedien.”
Hy sê die amptenaar se onsimpatieke houding het hom onder gekry.
"Toe ek die amptenaar vra wat van die kos in my vrieskas en hoe moet ek my kinders voer sonder krag het hy net ongeërg geantwoord ‘dit moet maar vrot’ en dat ek ‘n primusstoof moet gaan koop.”
Volgens die munisipale woordvoerder Laura-Leigh Randall blokkeer hulle juis mense se kaarte om hulle te dwing om reëlings met die munisipaliteit te tref om skuld af te betaal.
"Water en elektrisiteit word beskou as handelsdienste. Die munisipaliteit koop die dienste aan en verkoop dit dan weer aan inwoners. Die munisipaliteit kan nie finansieel oorleef indien hulle dienste weggee nie,” sê Randall. Sy sê mense in subekonomiese gebiede is geregtig om ‘n sekere hoeveelheid basiese dienste gratis te ontvang, maar indien dit oorskry word moet hulle betaal. Sy sê ook inwoners is self verantwoordelik om hul meters skoon en sigbaar te hou anders sal ‘n gemiddelde bedrag gelas word.

Wewe Blouw, wat ook kla oor ‘n kaart wat geblokkeer is, sê sy is aangesê om die uitstaande bedrag van R400 dadelik op te dok. Sy vra hoe dit moontlik is dat sy geld skuld as sy ‘n voorafbetaalde meter het.
"Die geld wat ek skuld is nie vir krag nie, dis vir water,” sê ‘n onstoke Blouw.
Randall sê die munisipaliteit se bywette gee hulle die reg om kaarte te mag blokkeer.

subscribe