Kouga voorlopige begroting skok

Piet Liebenberg
 VUISVOOS belastingbetalers van die Kouga, wat van vandeesweek 66 sent meer per liter petrol betaal, kan hulle vir verdere skokke staal indien die raad die Kouga Munisipaliteit se begroting vir 2012/13 aanvaar.
Nieteenstaande die munisipaliteit se verklaring verlede jaar en vanjaar dat aanhoudende prysstygings vir munisipale dienste en belasting nie volhoubaar is nie, en dit mettertyd sal veroorsaak dat dienste onbekostigbaar word, beplan hulle prysverhogings bo die amptelike inflasie.
Die munisipaliteit wil watertariewe met 12% opstoot, elektrisiteit met 11.1%, riool met 9% en eiendomsbelasting met 7.5%. Slegs vullisverwydering, wat met 6% opgeskuif wil word, val binne die teiken van tussen 3% en 6% wat die regering vir inflasie gestel het.
Carien Burger, waarnemende direkteur van finansies, sê die belasting sal slegs met 5.6% styg en nie 7.5% soos in die dokumentasie aangebring is nie.
Soos met die vorige begrotings is die grootste uitgawe weer salarisse van amptenare. Hoewel burgemeester Booi Koerat toegee daar is te veel werkers, het hulle R190-miljoen begroot, sowat R14-miljoen meer as die vorige begroting.
“Hierdie begroting is totaal onrealisties,” sê DA-raadslid Nico Botha. Volgens Botha is die munisipaliteit se verwagte inkomste van R517-miljoen hopeloos oorskat. “Die begroting is geskool op die vorige jaar en bevat niks nuut nie.”
Die DA bevraagteken of die begroting uitstaande skuld van sowat R40-miljoen sal kan delg.
 “Indien die munisipaliteit nie die voorgestelde 95% invorder nie sal hierdie tekort verhoog tot meer as R100-miljoen,” het raadslid Ben Rheeder gesê.
Hy het ook gevra dat die spesiale tarief wat St Francisbaai betaal apart hanteer moet word.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.