Kouga swakste in Oos Kaap

Piet Liebenberg
VAN juweel van die Oos-Kaap tot muishond van Suid-Afrika, sê dr Gustav Barnard, ondervoorsitter van die Jeffreysbaaise inwonersvereniging oor die nuus dat die Kouga Munisipaliteit (KM) verlede jaar die slegste in die Oos-Kaap gevaar het.
Dit is die bevinding van Ratings Afrika wat die Kouga slegs 21 punte toegeken het vir finansiële volhoubaarheid.
In die verslag, wat wyd gepubliseer is, onder meer in die Sunday Times, sê Leon Claassen, analis van Ratings Afrika, ‘n tekort aan bestuursvaardighede is een van die belangrikste redes vir die swak prestasie. Die organisasie oordeel munisipaliteite volgens operasionele en finansiële kriteria en ken dan ‘n punt toe vir finansiële volhoubaarheid. Die ideaal is 100 punte en 75 punte beteken die munisipaliteit vaar redelik goed. Kouga se 21 punte spreek boekdele.
Charl Kocks, hoof uitvoerende amptenaar van Ratings Afrika, het gesê munisipaliteite moet ten minste 10% van hul begroting aan instandhouding spandeer, gegewe die swak toestand van die land se infrastrukteer. Hy sê personeelkoste moet sowat 35% van die begroting uitmaak. Volgens Kocks het die Kouga 67% van sy begroting spandeer aan personeelkostes en slegs 6% aan instandhouding.
Die KM hou steeds voet by stuk dat hul personeeluitgawes onder 40% is.
Die KwaDukuza (voorheen Stanger) munisipaliteit het 86 punte gekry, die land se beste. Slegs 39% van die begroting is aan personeelkostes bestee en instandhouding was 11% van die begroting.
Volgens Claassen is buitensporige salarisse vir burgemeesters een van die redes vir uitgawes wat vinniger styg as inkomste. Kouga se burgemeester, Booi Koerat, verdien sowat R54000 per maand en die Speaker, Magdalene Dlomo R42000.
Claassen sê nog ‘n probleem is sekere munisipaliteite wat hulself as primêre werkverskaffers beskou. Deur toenemend mense in diens te neem gaan stygende personeelkostes gepaard met swak diens.
Dr Nico Botha, DA-raadslid wat deurentyd waarsku die munisipaliteit stuur af op ‘n finansiële ramp, het gesê: "Die hoofrede moet gesoek word in die kundigheid wat ontbreek om doeltreffend en effektief te kan bestuur. Die politieke wil om ‘n ingryping te maak en om ‘n voorbeeld te stel, ontbreek ook. Die Kouga kan van die beste munisipaliteite wees as ons net raad wil aanvaar.”
Barnard het gesê : "Hierdie krisis en ander sake is hoog op die agenda by ons jaarvergadering wat op Woensdag 22 Februarie om 6 nm in die Newtonsaal gehou word.”
Hy het beklemtoon dat almal welkom is by die jaarvergadering en dat daar dringend gesoek word na nuwe bloed om in die bestuurskomitee te dien.

subscribe