Inwoners moet self eis

Piet Liebenberg
INWONERS van die Kouga wat ontevrede is oor hul munisipale rekening moet dit self met die munisipaliteit uitklaar, sê die munisipale woordvoerder, Mfundo Sobele.
Hy sê die munisipaliteit gaan nie outomatiese regstellings maak nie. Inwoners sal slegs ‘n krediet ontvang indien hulle die munisipaliteit direk kontak.
Our Times het navraag hieroor gedoen na hulle oorval is met klagtes van inwoners wat beweer die munisipaliteit het hul onregmatig aangeslaan.
Na ‘n ondersoek is bevind dat meters soms laat gelees word wat dan veroorsaak dat inwoners teen ‘n hoër tarief aangeslaan word. Veral oor Desember en in Augustus verlede jaar toe van die personeel gestaak het, is die meters laat gelees.
In Desember was meterlesings sowat 41 dae na die vorige een geneem. Inwoners moes dus vir vyf tot ses weke se verbruik betaal. Omdat tariewe verhoog namate verbruik verhoog, het dit veroorsaak dat hulle meer moes betaal.
Sobele sê slegs sekere dele van Jeffreysbaai en Humansdorp word hierdeur geraak.
"Die probleem het ontstaan as gevolg van personeel wat gewone en siekverlof geneem het. Die siklus wissel gewoonlik tussen 30 en 33 dae, maar in sekere gevalle mag dit gebeur dat lesings laat geneem word,” sê Sobele.
Die voorsitter van die Jeffreysbaaise Inwonersvereniging, Trevor Watkins, het sy verbasing uitgespreek dat ‘n organisasie wat sowat 40% van sy begroting aan personeel bestee, die vermetelheid het om ‘n tekort aan personeel as verskoning aan te bied.
"Ek het twee dae tevergeefs probeer om kommentaar te kry van die waarnemende finansiële direkteur, Carlien Burger of die waarnemende munisipale bestuurder, Sydney Fadi,” sê Watkins.
Volgens Watkins gaan die munisipaliteit nie outomaties rekenings aanpas nie maar sal inwoners self die munisipaliteit moet nader.
Die DA se LP Elza van Lingen het ook gesê dit is onverskoonbaar dat lesings nie behoorlik gelees word nie terwyl die munisipaliteit met te veel personeel sit.
"Ons almal weet dat daar in die munisipaliteit te veel middelvlakbestuurders is maar te min werkers in die veld. Ek daag die munisipale bestuurder uit om vir ons te sê wie is verantwoordelik vir hierdie swak diens,” sê van Lingen.

subscribe