Gestrande leerders skuld van tenders

Cindy Liebenberg
MOEDELOSE leerlinge van die Lungiso Hoërskool en Humansdorp Sekondêr op Humansdorp moes verlede week noodgedwonge by die huis bly.
Soos duisende ander leerlinge in die Oos-Kaap was hulle gestrand na plaaslike diensverskaffers ook hier besluit het om nie die kinders skool toe te vervoer nie omdat hulle sê hulle is vir twee maande nie betaal nie.
Hoewel die probleem nou tydelik opgelos is, is dit steeds ‘n groot kopseer.
Volgens die hoof van Lungiso, Sebenzile Hoko, is sowat 60% van die skool se leerlinge afhanklik van vervoer om by die skool te kom.
“As die kinders nie by die skool kan uitkom nie kan ons net sowel nie klas hê nie,” sê hy.
Hy sê voorts die kinders kom meestal uit ‘n agtergeblewe gemeenskap. Hulle het reeds ‘n agterstand omdat hulle so sukkel met skryfbehoeftes en leermateriaal en bowendien nie eers elke dag iets het om te eet nie, sê hy.
DA-parlementslid Elza van Lingen sê sy blameer die OosKaapse Taxi-organisasie.
“Die hele provinsiale kontrak van sowat R206-miljoen is vir die vervoer van skoliere aan die East Cape Taxi’s Chamber toegeken is en hulle is verantwoordelik om die betalings aan die vervoerkontrakteurs te maak. Daar skyn ‘n administratiewe probleem by die Taxi Chamber te wees. Daar is op die oomblik nie ‘n hoof uitvoerende amptenaar in die pos wat die projek moet bestuur nie en die voorsitter van die raad moes ingryp om die sake te bestuur,” het Van Lingen gesê.
Sy sê die Departement van Vervoer het haar verseker dat met een of twee uitsonderings na al hul betalings nou op datum is.
“Vervoerkontrakteurs het ook finansiële verpligtinge en verskeie van hulle is agter met paaiemente om hul bussies te betaal.
“Die kontrakteurs moet almal aan al die wetlike vereistes voldoen en hulle moet lede van die Taxi Chamber wees.
“Ongelukkig is dit juis hul eie organisasie wat nou vir hul finansiële verknorsing verantwoordelik is – die ondergang van ons kleinsake-sektor,” het Van Lingen gesê.

Leave a Reply

Please keep in mind that comments are moderated according to our comment moderation policy. Your email address is required but will not be published.