Bottel pleks van tier in tenk

Piet Liebenberg
DIE eienaar van ‘n bakkie in Jeffreysbaai is hoog die duiwel in na hy tot sy groot verbasing ontdek het sy bakkie se petroltenk is vervang met ‘n koeldrankbottel toe hy op ‘n tweeliterbottel van plastiek afgekom het onder sy bakkie se enjinkap.
Rudi Bekker het in daardie stadium reeds R1250 aan Marius Krohn van J-Bay Mechanical betaal om die bakkie se enjin te vervang. Na Krohn die voertuig afgelewer het, het die probleme te voorskyn gekom – die maatskappy wat die uitlaatstelsel sou vervang het, het geweier om aan die bakkie te werk omdat die enjin volgens hulle skeef was.
"Hoe kan ek betaal vir sulke werk?” vra Bekker ontstoke. Hy sê hy het ongelukkig reeds vir Krohn die volle bedrag betaal voor enige werk gedoen is. Bekker is ook bekommerd dat die koeldrankbottel so na aan die enjin lewensgevaarlik is. Hy sê as dit uitstort, kan die hele voertuig uitbrand.
Krohn sê daar is niks verkeerd met die koeldrankbottel nie.
"Een monteerskroef wat nie vasgedraai was nie het veroorsaak dat die enjin geskuif het. Ek was bereid om die werk oor te doen, maar mnr Bekker het geweier,” het Krohn gesê.
Hy sê daar is ‘n goeie rede vir die koeldrankbottel. Hy het die oorspronklike dieselenjin met ‘n petrolmodel vervang en aangesien die tenk nog diesel bevat het, moes dit eers uitgespoel word voor dit met petrol vervang sou word. Hy sou dit gedoen het na die uitlaatstelsel vervang is.
Bekker sê al die werk moes verlede Vrydag al klaar wees. Hy het reeds die spoelmiddel vir Krohn gegee om die tenk uit te spoel. Hy het ook self die nuwe enjin en ander onderdele voorsien en Krohn moes slegs die werk doen. Hy sê hy is nie bereid om Krohn weer aan die voertuig te laat werk nie en het reeds iemand anders gekry om die bakkie te herstel.

subscribe