After tralies vir kaas en gom

Cindy Liebenberg
'n BLOK kaas en ‘n buisie gom het veroorsaak dat Cathy Cronje, ‘n voormalige werknemer van Saverite op Jeffreysbaai, Sondag agter tralies deurgebring het.
'n Hoogs emotionele Cronje het Our Times Maandag van haar nagmerrie-ervaring vertel.
Sy sê sy het Sondag na kerk by die winkel ingedraf om onder meer kaas en skryfbehoeftes te koop.
Sy het plat op die vloer voor die skryfbehoeftes gaan sit om behoorlik te kan sien waarna sy soek, sê sy. Sy het iets spesifieks gesoek vir haar seun wat Maandag ‘n taak moes inhandig.
Ingedagte het sy toe blykbaar die kaas en ‘n buisie gom in haar handsak geplaas terwyl sy met een van die personeellede aan die gesels geraak het, sê sy. Dié het aanbeveel dat sy die karton waarna sy gesoek het by ‘n ander winkel sal kan kry.
Volgens Cronje het sy opgespring, vir die personeellid gesê sy kom oor ‘n paar minute weer terug en by die winkel uitgestap. Die sekuriteitswag het haar egter voorgekeer en daarna was die gort gaar, sê sy.
Die polisie is ontbied en sy is in hegtenis geneem waarna sy agter in ‘n vangwa na die polisiestasie geneem is. Sy is tot 8uur die aand aangehou, sê sy.
Die takbestuurder van Saverite, Pieter du Toit, het die insident bevestig en gesê Cronje het oor naweke vir hulle gewerk.
Hy het gesê die winkel ly geweldige verliese as gevolg van winkeldiefstal en hulle het baie streng prosedures wat gevolg word indien iemand gevang word.
"Ons maak geen uitsondering vir enigeen wat gevang word nie. Die wet moet sy gang gaan,” het du Toit gesê.
Hy sê hulle moet konsekwent in alle gevalle optree.
Die woordvoerder van die Jeffreysbaaise polisie, adjudant-offisier Petra Els het bevestig dat Cronje vir winkeldiefstal aangehou is en dat sy Woensdag in die hof op Humansdorp moet verskyn.

subscribe