Skool trots op karate-sterre


TWEE leerlinge aan die Hoërskool Westering het die afgelope skoolvakansie baie goed gevaar in karate – die een op eie bodem en die ander in Brasilië.


Kayleigh Chamberlain het by die Suid-Afrikaanse Shotokan Nasionale Kampioenskappe, wat in Benoni gehou is, 'n goue medalje vir bunkei, 'n silwer vir span-kumite en ipon-kumite en 'n brons medalje vir kata and kumite verower.


Johannes Lourens het die Suid-Afrikaanse nasionale junior Protea karate-span verteenwoordig by die Wuko Wêreld Karate-kampioenskappe wat in Brasilië gehou is.


Hy het huis toe gekom met 'n brons medalje vir individuele kata, 'n brons vir sanbon-span kumite en 'n silwer vir ippon-span kumite.


Kayleigh, wat al sewe jaar aan karate deelneem, het gesê sy moes haar ma smeek om aan die sport te mag deelneem. Sy oefen by die westelike voorstede se karate-klub in die Sacred Heart-gemeenskapsentrum in Westering en haar sensei is Kenny Tawse.


"Ek oefen van Maandae tot Donderdae en ook Saterdae by twee klubs as ek nie skoolsport het nie.


"Ek oefen nou om my volle swart gordel te kry [eerste dan, shodan]. Ek het 'n junior swart en hoop om my swart gordel begin aanstaande jaar te kry."


Hoewel Kayleigh baie besig is, hou sy daarvan om naweke saam met haar vriende en familie te kuier as sy nie aan kompetisies moet deelneem nie.


Johannes het gesê hy hou ook daarvan om naweke saam met sy familie te kuier en spot dat hy daarvan hou om winkels toe te gaan al is hy 'n seun.


Hy neem al nege jaar aan karate deel en hoop om nog baie jare daarmee te kan volhou.


Hy behoort aan die Michael Kliment Karate-instituut in Westering.


"Ek het by karate betrokke geraak omdat ek daarvan gehou het om met mense te baklei toe ek klein was.


"Ek weet nou dat baklei verkeerd is. Karate het my ook geleer om meer respek vir mense te hê en om gedissiplineerd te wees."


Johannes het gesê hy het nooit gedink hy sou so ver kom met karate nie. Hy oefen drie keer 'n week en voor groot kompetisies vier keer. Hy wil eendag graag sy eie dojo begin om mense te leer hoe om hulself te verdedig.

subscribe