Forum is paraat op straat


OM 'n misdaadforum te stig, beteken nie net om 'n paar vrywilligers byeen te kry nie. So 'n forum moet ook bekwaam wees om werklike beskerming te kan bied.


Daarvoor het die Weseinde se gemeenskapsmisdaadwaak (WGMW) seker gemaak.


Karen Kemp, sameroeper van WGMW, sê 'n misdaadforum was broodnodig in die buurt en daarom is WGMW drie jaar gelede gestig.


"Mense in ons woonbuurt is helder oordag beroof. Die kinders het tik in die park gerook. Ons kon nie meer terugstaan en kyk hoe ons buurt agteruitgaan nie," het Kemp gesê.


Met die hulp van ADT- sekuriteit, Business Against Crime, PE Kollege, sensei Clinton Raymond Frieslaar, John Preller en Wendy Hillock (Humewood se misdaadforum) het Kemp en 24 inwoners die forum gestig.


"Ons grootste wapen is kommunikasie. As jy iemand kalm benader, bly hulle ook kalm maar as jy aggressief optree, lok jy aggressie uit.


"Maar 'n mens kan nie net praat nie, 'n mens moet ook doen. Dit is waarom ons kol. Dave Moorhouse (gespreksleier van gemeenskaps projekte) genader het. Hy het ADT gevra om elke Saterdag lede van die forum op te lei in die saal van die PE Kollege se Dower-kampus."


"Dit sluit 'n gemeenskaps- beskermingsprogram in wat leiding gee oor talle aspekte – van misdaadvoorkoming tot radiokommunikasie en selfverdediging," het Kemp gesê.


Die program is elke jaar hersien om die patrolleerders op hul tone te hou.


Vandeesmaand begin die forum met klasse in noodhulp sodat hulle die gemeenskap beter kan dien.

subscribe